Wat is Paasfees vir jou?


Wat is Paasfees vir jou?



Dwarsoor die wêreld vier Christene Paasfees met passie en oorgawe op verskillende maniere. Vir Grieks-Ortodokse Christene is rooigekleurde eiers en gevlegte paasbrode so eie aan Paasfees soos hulle tradisionele groet op Paassondag: “Christus het opgestaan!” En die antwoord is dan: “Hy het waarlik opgestaan”. Die rooi eier word dan simbool van Jesus se bloed wat gevloei het en wanneer die eiers later in ’n seremonie teen mekaar gekap word en kraak, word dit simbool van Christus se triomf oor die graf wat as’t ware oopgebreek is en Jesus wat triomfeer oor die graf en die dood. In Suid-Afrika is die eerste tekens van die komende Paasfees ook nie ongewoon of uniek nie. Soos oral in die wêreld verskyn ’n bonte mengelmoes van paashasies en paaseiers op winkelrakke in elke denkbare vorm en kleur en paasbolletjies word, blinkgepoets, uitgestal om jou maag ronder, en jou beursie platter, te maak. Maar wat het dit eintlik met die ware betekenis van Paasfees te doen? Ek wonder dikwels wat sou Jesus dink as Hy hierdie dolle gejaag en geskarrel moes aanskou van familielede wat mekaar wil verras met die mooiste, grootste of duurste paaseier?
Die ware betekenis van Paasfees lê egter opgesluit in Christus se finale oorwinning oor die dood en die ewige lewe wat nou vir ons ’n werklikheid is. Die hoogtepunte van die Paasfeesverhaal wentel rondom Jesus se kruisiging, Sy neerdaal in die graf en, die belangrikste van alles, Sy opstanding uit die dood. Dit is immers die enigste ware Evangelie soos wat Paulus dit vir ons verduidelik in 1 Kor 15 vanaf vers1.

DIE OPSTANDING
Ons lees die verhaal ook in die Evangelies van Mattheus, Markus, Lukas en Johannes. Drie dae na Jesus se dood het ’n paar treurende vroue na Sy graf gegaan om Hom te salf. Hulle wonder nog oor wie vir hulle die steen voor die opening van die graf sou wegrol, maar toe hulle opkyk, sien hulle dat die steen weggerol is en by nadere ondersoek vind hulle die graf leeg. ’n Engel van die Here verskyn aan die vroue en sê aan hulle dat Jesus opgestaan het uit die dode en vooruit gegaan het na Galiléa. Daarna verskyn Jesus ook aan sy dissipels en Hy het met hulle gepraat en saam met hulle maaltyd gehou. In die daaropvolgende veertig dae het honderde mense Jesus aanskou voordat Hy opgevaar het hemel toe. Tydens Sy wandel op aarde het Jesus telkens vir die wat Hom aanneem, die Ewige Lewe belowe.
In Johannes 11:25 sê Jesus vir Martha: “Ek is die opstanding en die lewe; wie in My glo, sal lewe al het hy ook gesterwe; en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid nie.”
JESUS ONS EERSTELING
As die verhaal van Paasfees bloot geëindig het in die graf, sou Jesus net nog ’n spirituele of geestelike leier wees met ’n begrensde leeftyd van historiese belang. Maar Goddank, dit is nié waar die verhaal eindig nie! Jesus self het vir ons die Eersteling geword van dié wat uit die dood opstaan en ewig lewe. Sy opstanding uit die dood bewys aan ons Sy mag oor die dood en die doderyk en dien as ewige bewys aan ons dat “... En nou kan ons, net soos Christus wat deur ‘n heerlike magsdaad van die Vader opgewek is, ook ‘n totaal nuwe lewe leef.” Rom. 6:4b
Ons kan nou jubel en getuig saam met die apostel Paulus as hy in Rom. 6: 23 sê: “Want wat die sonde uitbetaal, is die dood. Maar God se genadegeskenk is die ewige lewe wat ons deel word deur Christus Jesus ons Here!”

MY GEBED
Dis my gebed dat die ware betekenis van Paasfees vir jou persoonlik sal tuiskom en dat jy saam met miljoene Christene oor die hele wêreld kan getuig dat die Ewige Lewe vir jou en vir my en vir elkeen wat Hom aanneem, ’n groter werklikheid is as die tydskrif wat jy nou in jou hande vashou. Joh 3:16 “Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.” ?

 


 
Home | Current Issue | Past Issues | About us | Subscribe | Advertise | Contact us
Terms and Conditions | Privacy Policy