Hardus Zevenster


Die maand van liefde



Die vakansiebui is weg, die meeste ‘nuwejaarsvoornemens’ seker teen dié tyd verbreek en 2009 het nou amptelik aan die gang gekom. Wanneer dié realiteit ’n mens tref, kan ’n mens nie anders as om die uitdagings van 2009 vierkantig in die oë te kyk en met nuwe ywer aan te pak nie. Ons glo immers ‘met my God spring ek oor ’n muur....’
Dit is wonderlik om dié jaar af te skop met ’n maand waar die liefde op ’n unieke manier met Valentynsdag herdenk word. Hoewel dit ’n sekulêre dag is, en in baie gevalle ’n manier is vir besighede om geld te maak, plaas dit tog die fokus op iets waarsonder nie een van ons kan leef nie: Die Liefde.


TOEKOMSBELOFTE
As dit nie vir Die Liefde was nie, het ons geen toekoms gehad nie. Ons Vader se liefde vir ons het gemaak dat Hy Sy enigste Seun geoffer het aan ’n kruis en sodoende het Hy in ons plek die skuld van ons sonde betaal. Dit is daarom ook nie vreemd dat Joh. 3:16 seker die bekendste teksvers in die Bybel is nie. Daar is egter ’n paar uitstaande kenmerke van die liefde wat ons nie kan miskyk nie. Van dié eienskappe is:

OPOFFERING
In Joh 15:13 lees ons: “Groter liefde het niemand as dit nie, dat iemand sy lewe vir sy vriende gee.” Dit het Jesus vir ons gedoen. Wat ons onsself dié maand moet afvra, is: wat het ek vandag gedoen om my liefde vir Jesus op ’n tasbare wyse aan Hom en die wêreld te bewys? Daarmee saam geld dit ook vir enige ander verhouding waarmee die Here ons geseën het. Kom ons leer om dié jaar meer vir mekaar op te offer en meer van onsself vir ander te gee.

GEEN SELFSUG
Iets wat ’n mens baie vinnig in enige verhouding leer is om geensins selfsugtig te wees nie en in alles mededeelsaam te wees. Ons lees tog in Spreuke 11:17: “’n Mens wat iets vir ’n ander oor het, baat self daarby.” Beslis goeie raad waarna ons maar kan luister! Verder sê Paulus in Filippense 2:3: “Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself.”

VERGIFNIS
Nie een van ons is perfek nie, selfs nie eens die ‘perfekte’ vrou/man met wie ons getrou het nie. Ons moet dus leer om meer te vergewe. Jesus het immers die voorbeeld gestel. Terwyl hy aan die kruis hang, kyk Hy na die mense wat Hom dit aandoen en sê dié kragvolle woorde: “Vader vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie.” Lukas 23:34. Ek dink ook aan Efesiërs 4:32 “Maar wees vriendelik en vol ontferming teenoor mekaar; vergeef mekaar soos God ook in Christus julle vergewe het.”
Ons ken ook almal die grappie van die huwelikspaar wat weke nie geslaap het nie aangesien die dominee gesê het hulle moenie kwaad vir mekaar gaan slaap nie! Dit is egter ’n groot waarheid wat ook in die Woord aangeteken is in Efesiërs 4: 26: “Word toornig en moenie sondig nie, laat die son nie ondergaan oor julle toorn nie.” Nog wyse woorde waarna ons maar gerus moet luister.

GROOTSE GAWE
Wanneer ’n mens die bekende 1 Korinthiërs 13 weer aandagtig deurlees, besef ’n mens opnuut dat daar inderdaad geen groter gawe is as die liefde nie. Lees dit gerus weer met ’n oop gemoed en laat die Heilige Gees toe om met jou uit dié gedeelte te praat. Ons kan tog nie verwag om liefde te ontvang as ons nie weet hoe om dit te gee nie. Dit is voorwaar die grootste gawe waarmee ons Hemelse Vader ons geseën het.

“The hunger for love is much more difficult to remove than the hunger for bread.” ~Mother Teresa

 
Home | Current Issue | Past Issues | About us | Subscribe | Advertise | Contact us
Terms and Conditions | Privacy Policy