Nuwe harte leef nuut

Dit wil voorkom of God in twee geskeur word deur die sonde en ongehoorsaamheid van Sy volk. Aan die een kant is Hy kwaad vir Israel se vyande vir die wrede manier waarop hulle Israel verniel het. Hulle trotsheid en grootheidswaan bewerk hul eie ondergang God gaan hulle tot verantwoording roep. (Eseg. 36:5 v.v.) ’n Mens hoor ook die Vaderhart, gebroke omdat Sy kinders swaarkry en na uitkoms roep. Soos ’n tipiese Vader wil Hy ingryp as Sy kinders ly en sukkel. (Eseg. 36:8 v.v.)
Die mens se kliphart
Aan die anderkant is God se teleurstelling groot. (Eseg. 36:17 v.v.) Ongeag herhaalde waarskuwings, het Israel voortgegaan om God in kru en ongehoorsame optrede te vertoorn... met klipharte wat nie na God se wil wóú vra nie. Die volle spektrum van sonde wat bloedvergieting, onreg, afgodediens en onreinheid insluit, is sonder hartsberou gepleeg. Ná alles wat hulle van Hom weet en ervaar het, gaan hulle voort om Sy waarskuwings te ignoreer. Hulle geestelike sekuriteit is in geboue en rituele asof God met veruiterlikte simbole beïndruk kon word. Hy vra ’n hartsgesindheid van afhanklikheid, lojaliteit en liefde. Projekte en programme sonder hartstog beïndruk Hom glad nie.
Arrogante harte
Nou word Sy Naam bespot en beledig. Israel se hartseer wegvoering en sukkelbestaan gee aanleiding tot laster en ongeloof. God kon Sy volk nie beskerm en red nie... die ander gode is gewis sterker as Israel se Jahwe (Eseg. 36:20 v.v.) God is jaloers op Sy goeie Naam. Dit moet te alle tye met eerbied en ontsag behandel word. Geregtigheid wil dit hê dat Hy Sy rug op Israel draai. Die liefde in Sy hart brand egter te sterk. (Hos. 11:8 v.v.)
Hy sal eerder ’n nuwe begin maak, nuwe harte uitdeel. (Eseg. 36:26 v.v.) Hy is na alles ’n genadige en liefdevolle God, altyd weer bereid om te vergewe, lankmoedig en buitegewoon geduldig. Hy het ’n sagte hart. As Israel net wil leer dat God se teregwysing nie net leë waarskuwings is nie. Selfs God se genade raak op.
En ons... harte?
Mense wil graag hoor van God se liefde en ’n hoopvolle toekoms tegemoet gaan. Sodra die voorwaarde daaraan verbonde egter verkondig word, is die profeet dikwels redelik ongewild. Dit is darem te konsekwent, wêreldvreemd en eenvoudig. Die lewe is veel meer kompleks. Maar dat die Heillige Gees in hierdie dae die lewens van Sy kinders ‘fynkam’, is gewis. Hy is ‘puntenerig’ en presies. (Hebr. 12:10 v.v.) Hy is nie bereid om te onderhandel oor Sy heiligheidstandaarde nie. “It´s either Lord of all or not Lord at all”, het iemand by geleentheid gesê.
Esegiël 33 verduidelik in geen onduidelike terme wat God van Sy volk vra: bekering, vleesharte, `n hartsverandering en ’n lewe en getuienis wat daarmee saamgaan. Dié wat die waarskuwing hoor en daarop ag slaan, red hul eie lewe. (Jes. 1:16 v.v.) Dié wat ongehinderd voortgaan met onreg en die verkeerde bly doen, loop die ewigheid vir altyd mis. Gehoorsaamheid is die hartklop van hierdie verhouding. (Jes. 1:13 v.v.) Die profeet wat egter huiwer om die volle raad van God te verkondig, is verantwoordelik vir die wat verlore gaan. (Eseg. 33:7 v.v.) Dit is ’n ontstellende gedeelte hierdie, dit gee ’n mens hartkloppings.
Ons stukkende hart
Ons nasie is stukkend. Ons kinders is rigtingloos, ons ouers desperaat. Ons leiers ruggraatloos en die volgelinge verward. Ons profete is stom en ons getuienis flou. Ons geestelike energie is uitgeput en ons spirituele tempetaruur laag. Entoesiasme is kortstondig en ons herlewingsbelewenisse van korte duur. Ons gemaksones word groter en ons liefde vir die wêreld blom. Ons harte is hard en stukkend.
’n Hartroerende pleidooi
Ek het onlangs die volgende voorbeeld in ’n preek gebruik. ’n Motoris word deur aankomende verkeer begroet wat ligte flikker en noodligte aanskakel. Hulle beduie met hul hande dat daar gevaar voor is, dalk ’n motorongeluk nie ver van waar die motors hul tans bevind nie. Wie nogtans verkeersreëls willens en wetens ongehoorsaam, sperstrepe oorsteek en blindelings voortsnel, is harteloos, dom en astrant. Boonop stel hy nie net sy eie nie, maar ander ‘onskuldige’ mense se lewens in gevaar. So onverstaanbaar soos dit mag klink, daar is sulke verspotte mense.
God kom ons uit die ‘toekoms’ tegemoet. Hy flikker sy ligte en waarsku dat daar gevaar voor in die pad is. Boonop word sy waarskuwings deur soveel ander getuienisse ondersteun. Die media is daag-
liks daarvan vol. Die mensdom stuur op ’n politieke, ekonomiese, sosiaal-maatskaplike en ekologiese ramp af. Hy praat reguit en ernstig. “... en My volk oor wie My Naam uitgeroep is, toon berou en bid en vra na My wil en draai terug van hul bose weë af, sal Ek luister uit die hemel en hulle sondes vergewe en hulle land laat herstel.” (2 Kron. 7:14) Strategiese waardes soos eer-likheid, medemenslikheid, selfbeheersing en verantwoordelikheid kan hier-die menseramp afweer. Ons moet egter betyds ’n koersaan-
passing maak, ’n hartoorplanting ondergaan en nié na hartelus voortsnel op ’n trajek wat op chaos afstuur nie. (Deut 30:19 v.v.) God beloof nuwe harte. Presies hóé menslike verantwoordelikheid en Goddelike genade, guns, of belofte by mekaar uitkom, is ek nie seker nie. Hoeveel daarvan is God se Genade en hoeveel daarvan is die mens se verantwoordelikheid? Jy vra ’n nuwe hart en lééf ’n nuwe hart. Nuwe harte leef nuut! ?
|