Is die kerk tans laagwater?

I.e. Golwe wat met egaligheid breek en uitspoel op ons strande veroorsaak ure se genot vir ons kinders en almal wat life is vir die see. Die krag van die golwe verskil heelwat van mekaar tydens hoogwater en laagwater. Dit is duidelik sigbaar, maar selfs wanneer die water laag is, kan ons nog heerlik swem, baljaar en selfs visvang.
Tydens ’n reeks dienste in Wallis waar ek moes optree, het ek opgemerk dat daar ’n duidelik-opmerkbare verskil is tussen die getye van die see in die noorde (sien foto’s van die hawe by Tenby, Wallis). In die hawe lê die vissersbote plat op die grond en sommige het selfs diep in die sand weggesak soos wat die wisseling van die gety wrywing in die sand veroorsaak het.
Die seelewe is tydens laagwater beperk tot Klein organismes, enkele paddavissies in sommige van die poele en krappe wat soms sigbaar is. Die vissersbote is onaktief en geen visserman is sigbaar nie. Die seelewe keer weer terug na die hawe tydens hoogwater. Vissersbote word weer aktief en mense begin selfs weer visvang vanaf die hawemuur.
Laagwater-Christenskap
Die wisseling van die getye is ’n pragtige en praktiese voorbeeld van ons eie geestelike lewe en selfs die plaaslike gemeente.
’n Laagwater-gety in ons eie lewe beteken bloot dat die Lewe van Christus in ons beperk is en nie altyd so duidelik sigbaar is vir andere nie. Dit is wel daar en ons is selfs baie aktief in die kerk, maar dit het vir baie moeilik geword. Is jy moeg om te probeer om ’n goeie Christen te wees? Is jy oormoeg en oorlaai deur kerklike aktiwiteite? Voel dit of jy soms ’n robot-verhouding met God ervaar? Vind jy dat jy geestelik begin leegloop? As jy op enige van hierdie vrae ‘ja’ antwoord, kan dit wees dat jy ’n laagwatertyd binnegaan. Dit veroorsaak verder dat:
-
Ons geen behoefte het om te bid nie. Min of geen binnekamer lewe nie;
-
Ons geen aptyt meer vir die Woord van God het en tyd maak vir Hom nie;
-
Dit makliker is om verskonings te soek en onsself te regverdig eerder as om na Sy Stem te luister en Hom te gehoorsaam;
-
Ons geen krag het om weerstand te bied teen sonde of versoekings nie;
-
Ons geen bekommernis of Las vir siele het wat verlore gaan nie;
-
Ons hard is, soms onvergewensgesind en maklik kritiek gee.
Die verhaal word vertel van ’n Chinese leraar wat per geleentheid die Weste besoek het. Na ’n tydperk van twee maande het hy opgemerk: "Dit is ongelooflik om te sien hoeveel julle kan vermag met al die programme en aktiwiteite sonder die Teenwoordigheid en Krag van die Heilige Gees."
God het Hosea gestuur na die noordelike koninkryk van Israel in ’n laagwatertyd en in ’n tyd van voortdurende geestelike en morele verval wat geëindig het met die inval van die Assiriërs in 722 VC. Israel het vir baie jare God se seëninge beleef- op materiële gebied, ’n sterk militêre mag, ’n vredesverhouding met die buurlande en geestelike seëninge, maar tog het hulle die rug op die Here gedraai. Hulle het egter vir God vergeet as die enigste bron van hulle krag en seëninge en Hom vervang met hulle eie afgode, wêreldse plesier en rykdom.
Die toestand van die Westerse Kerk is ooglopend en selfs kenmerkend dieselfde as in Hosea se tyd. Ons het in baie gevalle God verlaat en vervang met ons eie afgode en programme. Aktiwiteite is dikwels die enigste teken van lewe in die kerk. Lewe word dikwels verwar met lewendigheid, aktiwiteite en die aanbied van programme. Dr Henry Blackaby het tydens sy onlangse besoek aan Suid-Afrika genoem dat die kerk grotendeels ’n intieme liefdesverhouding met God vervang het met die beoefening van ‘Godsdiens en Kerk’.
’n Laagwater-gety in die plaaslike gemeente en gemeenskap beteken verder dat die lewe, krag en invloed van die Nuwe Testamentiese Kerk, soos wat dit voorkom in die boek Handelinge, begin taan. Dit word duidelik sigbaar wanneer:
- dienste swak bygewoon word;
-
Bidure afgestel of glad nie bygewoon word nie;
-
Geen of swak evangelisasieprogram en uitreike na verlorenes;
-
Daar onderlinge kritiek en verskille met mekaar is en geen eenheid nie;
-
Lidmate openlik in sonde leef, sonder om aangespreek te word;
-
Liberalisme en humanisme voor die outoriteit van die Woord geplaas word;
- geen bekerings plaasvind nie;
- geestelike en morele verval sigbaar is.
Terugkeer na Hoogwater
Dr Billy Graham het per geleentheid aan ’n professor gevra wat die grootste behoefte van ons tyd is. Nadat hy goed nagedink het, was sy antwoord: "Ek sou ’n verskeidenheid van antwoorde kon gee wat wissel van belastingverligting tot ontwapening. Dit mag jou verras, want ek is nie ’n gelowige mens nie, maar ek glo dat die grootste behoefte van ons tyd ’n geestelike ontwaking is wat die individue en gemeenskaplike moraal en integriteit van ons land kan herstel."
Indien die Here Hosea sou terugstuur na Suid-Afrika en die Kerk, sou die boodskap seker nie veel verskil nie, maar dit hoef nie. As ons net besef dat die Here ons graag wíl seën en as ons terugkeer na Hom, sal ons Sy seën ervaar.
Hosea 10: 12-13: " Saai vir julle volgens die eis van geregtigheid, maai in ooreenstemming met die liefde; braak vir julle ’n braakland, want dit is tyd om die Here te soek, totdat Hy kom en geregtigheid oor julle laat reën. Julle het goddeloosheid ingeploeg, julle het slegtigheid gemaai, die vrug van leuens geëet, omdat jy op jou weg vertrou het, op die menigte van jou helde".
-
Kom laat ons terugkeer na Hom en ons vorige leefstyl van geregtigheid waar ons intimiteit met God ervaar, Sy Stem gehoor en gehoorsaam het.
-
Kom ons aanvaar God se genade, vergifnis en vergewe ook andere wat ons seergemaak en te na gekom het.
-
Kom ons laat God toe om opnuut ons harte te breek en te verander, veral in die areas waar ons buite Sy wil beweeg het.
-
Kom ons ween oor ons sonde, veral waar ons Hom bedroef het en bekeer onsself daarvan.
-
Kom ons aanvaar verantwoordelikheid vir die gevolge van ons dade.
-
Kom ons maak ’n soeke na God weer die hoogste prioriteit in ons lewe.
Here, gee weer vir ons ’n hoogwatertyd waar die Lewe van Christus in ons hart, ons Kerk en in ons mooi land Suid-Afrika sigbaar word.+
Deur
Dr. Francois Carr
|