Die Onderdanige Eggenote


Die onderdanige eggenote

‘n Gebrekkige verstaan van hierdie belangrike saak veroorsaak chaos in Christen-gesinne. Die Christelike verstaan van die huwelik is die permanente vereninging van één man en één vrou, en dit wat deur ‘n stel reëls gereguleer word. Dié reëls, soos al God se reëls, word in die Skrif gevind. Die Christen weet dat God die huwelik ingestel het. Hy het ook ‘n orde, waarsonder huwelike nie kan funksioneer nie daargestel. Sonder God se orde sal chaos en verwarring in die hemele heers. Deur die Christen-huwelik in die lig van die Skrif te bring, vind ons harmonie – of vind ons verwarring, botsing en chaos?

Die vraag of onderdanigheid van die Christen-eggenote korrek is al Dan nie, is nie ‘n saak van opinie of debat nie. Dit is Bybels; of ons nou dink dis reg of verkeerd dit bly irrelevant. Onderdanigheid en gesag geld nie net vir God se orde vir man en vrou nie, maar is deel van Sy orde vir die hele gesin en vir die gemeenskap. Kinders moet aan ouers gehoorsaam wees. Vernietig hierdie orde en jy kan die gesin vernietig. Vernietig die gesin en jy sal lewens en die hele gemeenskappe waarvan die gesin die fondament is vernietig. Slegs gehoorsaamheid aan God se gesagstrukture kan gesonde gesinne, gemeenskappe en nasies bou.

Bybel die enigste bron

Kom ons kyk nou na die enigste onbetwisbare bron oor hierdie en enige ander saak – die Skrif wat deur God sélf daargestel is. Gen. 2:7 "Toe vorm die Here God ’n menslike liggaam uit die stof van die aarde. Nadat Hy die asem van die lewe daarin geblaas het, het dit ’n lewende wese, die mens, geword."

God het dus die mens geskape. "Ook het die Here God gesê dit is nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ‘n hulp maak wat by hom pas." Gen. 2:18. God het dus die vrou gemaak sodat sy ’n hulp kan wees – ‘n man se hulp.

Die volgende Skrif is ‘n direkte opdrag van God aan vroue. Lees Genesis 3 waar God Adam en Eva konfronteer nadat hulle van die verbode vrugte geëet het. Aan die vrou het Hy gesê: "Ek sal jou droefheid vermeerder: met pyn en lyding sal jy kinders in die wêreld bring. Jou begeerte sal na jou man wees, maar hy sal oor jou heer." Gen. 3:16. Die Bybel stel dit altyd só – soos dit is. Kyk bietjie na ‘n paar definisies van die woord heers uit die HAT woordeboek: "As die heer gesag uitoefen, heerskappy voer; die oorhand hê, meester wees".

Verbode vrugte

In vers 17 van Gen. 3 draai God na Adam en sê: "Omdat jy geluister het na die stem van jou vrou en van die boom geëet het waarvan Ek jou beveel het om nie te eet nie, vervloek is die aarde om jou ontwil; met moeite sal jy daarvan eet al die dae van jou lewe." Adam het van die vrug geëet omdat hy na sy vrou geluister het. Hy het na haar geluister en nie na God nie. Hy het daarvan geëet omdat hy haar wou tevrede stel. Paulus bevestig dit in 1 Tim. 2: 11-14: "Die vrou moet haar in stilte laat leer in alle onderdanigheid. Ek laat die vrou egter nie toe om onderrig te gee of oor die man te heers nie, maar sy moet haar stil hou. Want Adam is eerste gemaak, daarna Eva. En Adam is nie verlei nie, maar die vrou het haar laat verlei en het in oortreding gekom."

God se orde

Kyk verder in die Nuwe Testament na die opdragte wat God aan vroue (eggenotes) gee: 1 Kor. 11: 3 "Maar ek wil hê dat julle moet weet dat Christus die hoof is van elke man, en die man die hoof van die vrou, en God die hoof van Christus." Volgens die HAT is hoof: Gedeelte van die menslike liggaam wat uit die skedel en die gesig bestaan, die harsings bevat en gevolglik as die setel van die verstand geld en onmisbaar vir die lewe is. Sonder die kop kan die liggaam inderdaad nie funksioneer nie. Dit is Dan ook dieselfde term wat gebruik word om God se posisie in die Kerk te beskryf. Wat ons daarvan dink, is weer eens irrelevant. Vers 7 en 8 van 1 Kor. 11 sê: "Want die man moet die hoof nie bedek nie, want hy is die beeld en heerlikheid van God, maar die vrou is die heerlikheid van die man. Want die man is nie uit die vrou nie, maar die vrou uit die man." Die Hemelse God het dus die vrou na die beeld van die man geskape – as hulp tot voordeel van die man. En die man is na die beeld van God geskape. Hoekom? Omdat dit belangrik is! Dit is Sy manier om Sy skepping te orden; dit is Sy plan vir perfekte harmonie; nie net tot voordeel van die man en die vrou nie, maar vir die hele gesin en gemeenskap. ‘n Gesin wat goed funksioneer lei tot ‘n buurt wat goed funksioneer. Dit vind weer neerslag in die gemeenskap en die land wat goed funksioneer.

Onderwerp in alles

Kom ons kyk nou na nog ‘n Skrif wat net so duidelik oor hierdie saak is. Ef. 5: 22-24. Maar eers moet ons duidelikheid oor vers 21, wat dikwels verkeerd verstaan word kry. "En aan mekaar onderdanig is in die vrees van God." Iets wat aangeneem word deur mense wat nie onderdanig wíl wees, is dat ons, onsself aan mekaar moet onderwerp. Ongelukkig word ander Skrifte vergeet en word ‘n vals argument opgebou; deur nét na dié vers te kyk wat sê dat vrouens nie aan hul mans onderwerp moet wees nie. Indien twee mense in dieselfde motor reis en een wil regs draai en die ander links, moet ons saamstem dat dit nie kán gebeur nie. Dis onmoontlik om in albei rigtings tegelyk te draai. Wat beteken die vers dus? Lees net verder en dit word duidelik dat drie groepe mense opdrag kry om hulle, aan drie ander groepe te onderwerp, ten einde God se orde te bevorder. "Vroue, onderwerp aan julle mans, soos aan die Here" (v 22); "Kinders julle moet julle ouers gehoorsaam wees in die Here" (6:1); "Diensknegte wees gehoorsaam aan julle Here na die vlees" (6:5). Nêrens in God se Woord word daar ooit gesê dat mans hul vroue moet onderdanig wees nie; dit word ook nêrens gesê dat ouers aan hulle kinders moet onderwerp nie. Let ook op die gebruik van die woorde "in alles" (v 24).

Betaamlikheid in die Here

Ef. 5:22-24 "Vroue wees aan julle eie mans onderdanig soos aan die Here. Want die man is die hoof van die vrou, soos Christus die Hoof is van die Kerk; en Hy is die Verlosser van die liggaam. Maar soos die gemeente aan Christus onderdanig is, so moet die vroue dit ook in alles aan hul eie mans wees."

Kol. 3:18 die ondersteun bogenoemde Skrif. "Vroue, wees julle mans onderdanig, soos dit betaamlik is in die Here." Ons moet egter ook uitwys dat geeneen van die verse ‘n voorwaarde bevat nie. Nêrens staan daar "indien hy goed is vir jou" of "hy gered is" nie. Daar is geen maar nie! "Ja ek sal onderwerp, maar hy moet my liefhê soos die Bybel sê." Of "Ja, maar wat van hom?" Of "Ja, maar jy ken nie my man nie!" Daar is nie plek vir ‘n enkele maar nie!

Wen hom deur jou lewenstyl!

Kom ons kyk nou na die laaste Skrif – 1 Pet 3:1 "Net so moet julle vroue, aan julle eie mans onderdanig wees, sodat, as sommige aan die Woord ongehoorsaam is, hulle ook deur die wandel van die vroue gewin kan word." En jy, kosbare Christen-vrou, is by magte om jou man na die Here te lei deur jou onderdanigheid alleen sonder ‘n woord, om sodoende sy siel van die ewige verdoemenis te red. Wat ‘n voorreg, wat ‘n evangelisasie! Volgende keer kyk ons na die man, hoe hy vir sy vrou moet sorg en haar moet liefhê!

 

Deur Anthony Cockroft
 
Home | Current Issue | Past Issues | About us | Subscribe | Advertise | Contact us
Terms and Conditions | Privacy Policy