Christen-matriarg: Ingrid Pickard

Soos wat ‘n mens deur die lewe gaan, ontmoet jy mense wat ‘n groot indruk op jou lewe maak. Ek was bevoorreg genoeg om so ‘n persoon te ontmoet. Albei my dierbare ouers is op ‘n jong leeftyd oorlede. Elke jong, getroude vrou verlang na ‘n moederfiguur, veral wanneer haar eie kinders gebore word. Ek het ook ‘n moederfiguur begin mis, lank gesoek en haar toe gevind in ‘n ou universiteitsvriendin van my ouers. Hierdie ‘nuwe moeder’ het my, en ek weet ook van vele ander, altyd só spesiaal laat voel... sy het omgegee.... vir my, my politieke loopbaan, my man, my kinders en later ook oor die keuses van húlle mans! Haar naam: Ingrid Cornelia Pickard!
Wat maak haar so anders?
Waarom beskou ek haar vandag nog, saam met vele ander, as dié mees uitstaande vrou wat ek in my leeftyd leer ken het? Is dit omdat sy die dogter van die aangewese Staatspresident Eben Donges was; is dit omdat sy met die legendariese sakereus, Jan Pickard getroud was; of omdat haar kinders sulke spesiale mense is? Nee! Maar wat maak Ingrid Pickard dan so ‘anders’?
Haar ongelooflike liefde vir haar Skepper, haar man, haar kinders, haar kleinkinders en almal wat sy ken; haar liefde vir haar land en sy mense; haar lus vir die lewe; haar aktiewe betrokkenheid by alles waarvoor sy staan en waarin sy glo; haar entoesiasme vir die lewe ... om te leef en God ál die eer te gee vir Sy goedheid en guns in haar lewe! Dit is die rede waaroor ons by JOY!, en ook vele ander wat haar ken, ‘n huldeblyk van waardering en eer aan haar wil gee. Omdat sy vandág nog soveel vir ons beteken.
Ingrid Cornelia Donges is in Kaapstad gebore. Haar ouers: Dr Eben en mev. Billie Donges. Sy het net een suster, Una – vandag nog haar heel beste vriendin – haar sielsgenoot, raadgewer en ook reisgenoot. Saam deel hulle dieselfde belangstellings, verskil soms oor godsdiens en politiek, maar omdat hulle so lief vir mekaar is, respekteer hulle ook mekaar se verskille. Hierdie twee het al die wêreld deurkruis en dit geniet! Ingrid vertel dat sy darem nog baie graag ook Petra in Jordanië sou wou besoek.
Dit was op Stellenbosch terwyl Ingrid by ‘n TB sanatorium gewerk het, dat sy Jan (Bull) Pickard ontmoet het. Daardie tyd was die groot aantreklike man reeds W.P.-rugbykaptein en ook Springbok-rugbyspeler. Dit was sy lewendige persoonlikheid; sy positiewe uitkyk op die lewe; sy doelgerigtheid en geesdrif wat Ingrid na hierdie kleurvolle sportman, administrateur en sakereus in latere jare, getrek het.
Diepe dankbaarheid vir haar eggenoot
‘n Diepe dankbaarheid kom oor haar wanneer sy vertel dat Jan al die jare geglo het hy is ‘n Christen, maar reg aan die begin van sy siekte in die latere jare, het hy ‘n persoonlike verdieping met sy God beleef : een van totale afhanklikheid. Ingrid vertel dit was tóé dat hy gereeld aan hulle gesê het: “Wat doen mense as hulle nie die Here in hulle lewens het nie?” Hy het selfs by ‘n punt gekom dat hy hom weer laat doop het as ‘n stap van algehele gehoorsaamheid aan God. Ingrid vertel dat daar eersdaags ‘n boek oor Jan se lewe bekendgestel gaan word: “Jan Bull Pickard ...... larger than Life!”
Inspirasie vir ‘rugbyweduwees’
Dit was ook gedurende die lang tydperk wat Jan as Voorsitter van W.P.Rugby-Unie gedien het, dat Ingrid haar soos ‘n moederhen ontferm het oor elkeen van hierdie jong W.P.-rugbyspelers en hulle vrouens of vriendinne. Hulle was almal vir haar soos haar eie kinders – die Morné du Plessis’, Schalk Burgers(snr), Rob Louw’s en vele ander. Tot vandag toe gee sy nog raad aan elke vrou wat met ‘n rugbyspeler te doen het: Moet hom nie inperk nie, moet hom nie skuldig laat voel nie. Wees lief vir hom met oop hande. Hou jouself besig met jou eie beroep, kinders of die gemeenskap.
Ook in die rugbykringe het Ingrid haar stempel afgedruk as Christenvrou toe sy in 1995 met die Wereldbeker-rugby in Suid-Afrika net eenvoudig geweier het om twee van die wedstryde by te woon wat op ‘n Sondag gespeel is! Dít is Ingrid Pickard – ‘n vrou wat geen kompromieë aangaan as dit indruis teen haar oortuigings nie! Uit hierdie huwelik is die vier Pickard-kinders gebore – Teresa (Louw), Jan (Pickard), Karin (Louis) en Thea (Haller) – elkeen met ‘n eie, besondere persoonlikheid. Hierdie kinders, saam met die skoonkinders en kleinkinders (elf), speel ‘n integrale vreugderol in Ingrid se lewe. Sy sê onomwonde dat die sterkste elemente wat sy hulle almal geleer het, geloof in God is en om nooit op hulle eie krag en instinkte staat te maak nie. Naasteliefde, sin vir geregtigheid, verantwoordelikheid vir hul eie dade, onafhanklikheid en jou woord is jou eer, was almal haar slagspreuke in die vormingsjare van hierdie nasate van Jan en Ingrid Pickard.
Goddelike beginsels en standaarde te alle tye
Ingrid het feitlik haar hele volwasse lewe daaraan gewy om te staan vir Goddelike beginsels en Sy standaarde. Omdat ‘n nageslag wat God eer, vir haar van so ‘n groot belang is, is sy destyds deur die Minister van Binnelandse Sake, mnr. Gene Louw, genader om op die Publikasieraad van Suid-Afrika te dien. Dit was ook in hierdie tyd waar Ingrid ‘n uiters belangrike rol vervul het. Dit was toe die ‘in-ding’ dat elke sub A-dogtertjie of -seuntjie aan die begin van die jaar sy potloodblikkie in die vorm van ‘n doodskis of die skerpmakertjie in die vorm van ‘n kopbeen gekoop het. Ingrid het geglo dat dit absoluut onaanvaarbaar was. Sy en ‘n vriendin, Monica Sandri, het besluit dat iets gedoen moes word met hierdie doodskultus, asook die ‘Dooie Fred-lekkergoed’ wie se bene en arms uitmekaar getrek kan word as die kleintjies dié lyk begin eet! Ingrid het haar vriend, Raymond Ackerman van Pick ‘n Pay gaan sien en vir hom gevra of hy wil hê sy kleinkinders moet met hierdie kopbene, doodskiste en drake grootword. Die volgende dag is R120 000 se speelgoed van die rakke van Pick ‘n Pay verwyder! Mnr. Ackerman het nog gedink om dit aan minderbevoorregte kindertjies te gee, maar ook dáár was vir hom geen wegkomkans nie – geen kind kan met so ‘n doodsheid grootgemaak word nie! Artikels het in die “Kerkbode”, “Cape Times” en vele ander tydskrifte verskyn oor hierdie twee vroue wat daardie dag vir ons kinders omgegee het. Ingrid het net eenvoudig gesê dat kinders ‘n geskenk van God is en daar moet na hulle omgesien word.
Wagter op die muur
In die tydperk toe hulle kinders reeds groot was, het Ingrid baie betrokke geraak by Vroue vir Suid-Afrika, Besorgde Christenvroue in Suid-Afrika en Vroue met ‘n Roeping van die ACDP. Sy was die Stigterslid van Vroue met ‘n Roeping in die Wes-Kaap. Vir my, en vele ander, was dit die hartklop van die hele party – waar dinge regtig gebeur het en mense beïnvloed is. Saam met haar skoonseun, Michael Louis, vorige Minister van Omgewingsbeplanning en Batebestuur in die Wes-Kaap, het hulle gesê dat dit hulle droom is dat mense eendag na Suid-Afrika sal kyk en vra: “ Wat is julle geheim?” En om dan te kan antwoord: “Alle eer aan die Here. Ons grondwet moet op Nasionale vlak die ware God erken, want hoe kan ons verwag dat Hy ons land moet seën as ons Hom nie ken in álles wat ons doen nie!”
Vir Ingrid was haar eie pa, dr. T.E. Donges, een van die sterkste leiersfigure wat die land opgelewer het omdat hy vaderlandsliefde en integriteit gehad het. Sy lewe was vir haar een van dienslewering aan sy geboorteland. Hy is beloon met die hoogste eer wat enige Suid-Afrikaanse burger kan toekom – Minister van Binnelandse Sake, Minister van Finansies en aangewese Staatspresident van Suid-Afrika!
Vandag kyk Ingrid na die totale morele verval in die land en sy sê onomwonde dat die boodskap wat ons leiers uitstuur aan ons jongmense so verwarrend is en daarom bevind Suid-Afrika hom in hierdie moraliteitskrisis.
Ons bid, maar is nie daders van die Woord nie. As wedergebore Christene in ‘n land waar die meerderheid sê dat hulle Christene is, kán ons ‘n verskil maak! Sy vermaan dat ons moet glo in die onfeilbare Woord van God alleen. Ons moet praat oor dinge wat indruis teen Sy Woord en ons moet weer glo soos kinders!
Ingrid sê dat sy haarself in eie reg ook as ‘n aktivis beskou. As jy daardie wagter op die muur is, het jy ‘n verantwoordelikheid om mense te waarsku, huisvergaderings te hou en hulle in te lig.
Die toekoms van Suid-Afrika
Ingrid vertel dat sy eenkeer geluister het na ‘n boodskap oor die ‘Blink Môrester’ en net daarna vra ds. Johan Els van ‘Radio Kansel’ haar uit oor die toekoms van Suid-Afrika. Net daar het sy hom onmiddellik geantwoord: “Die toekoms is so blink soos die môrester indien elke knie sal buig en bely dat Jesus Christus die énigste weg vir Suid-Afrika is!”
Die moeilike tye wat ons tans beleef, dien as ‘n geleentheid om die boodskap van God se liefde en genade uit te dra. Sy glo met haar héle hart dat as dit gebeur, S.A. ‘n voorbeeld sal wees vir die res van die wêreld. Sy glo dat ‘n herlewing deur die Heilige Gees kan uitkring vanaf die suidpunt van Afrika tot aan die uithoeke van die wêreld. Maar ons moet weet: dit móét begin by innerlike herlewing by onsself.
Met die voorbereiding van die artikel het ek probeer om Ingrid in die hande te kry, maar soos gewoonlik was sy so besig. Haar liggaam is nie meer 100% sterk nie, maar nog steeds is sy voluit besig om saam met haar dogter, Thea, ‘n groot tee te reël vir die pensioenarisse in Zimbabwe. Sy het die skokkende toestand van hierdie pensioenarisse in ‘n JOY!-artikel gelees en dit het haar so geraak. Die woorde van wyle Dr. Anton Rupert het vars in haar gedagtes weerklink toe hy destyds met Lesotho se onafhanklikheid gesê het dat hy in die aande nie rustig kan slaap as hy weet sy buurman is honger nie. Onmiddellik het Ingrid weer oorgegaan tot aksie – om ander te inspireer en só saam te werk met fondsinsameling wat ‘n reuse sukses was.
Dit is waarom ons almal hier by JOY!, en ek glo ook elkeen in Suid-Afrika wat Ingrid Pickard ken, haar vandag wil vereer vir die bydrae wat sy in elke aspek van vrouwees uitgeleef het tot op hede. Aan God al die eer vir ‘n Ingrid Cornelia Pickard in ons Suid-Afrikaners se lewens! Sy is ‘n vrou met die hoogste integriteit, meelewing en ook ‘n hart van suiwer goud!
Ander menings oor Ingrid Pickard:
“Vir my was Ingrid nog altyd ‘n bondel energie en ‘n wonderlike bron van lewendige energie wat spruit uit ‘n duidelike en diepgewortelde vreugde wat nie weggeneem kan word nie … die Godgegewe vreugde wat alle omstandighede verdring en oortref.”
Dr Michael Mol
“My skoonma is gesalf met vreugde-olie: sy het haar lewe vir ander gegee en my geleer om onselfsugtig in my liefde vir mense te wees. Haar liefde vir hierdie land spreek duidelik deur haar 20 jaar aktiewe toewyding en kompromislose standpunt t.o.v die waardes waarin sy glo. Persoonlik sal ek haar onthou as ongelooflike ondersteuner en helper in al my pogings - in politiek en in sakebedrywighede. Ek twyfel nie eers daaraan dat God ‘n spesiale plek vir haar in die Hemel het nie! Vir my is sy ‘n vrou van waarde en substansie en sy sal ‘n fenomenale en legendariese figuur bly - ook vir geslagte wat nog moet kom”.
Michael Louis - skoonseun
“Ingrid is ‘n besonderse vrou en vriendin van vele. As ‘n leier in haar gemeenskap het sy die respek van almal as gevolg van haar sterk morele oortuigings, eerlikheid en integriteit. Haar finansiële bydrae tot die samelewing het baie male ongesiens plaasgevind a.g.v haar nederige en onselfsugtige natuur. Gedurende die laat-tagtigs het sy bv. die verstommende toename in eksplisiete geweld gekoppel aan ‘n algemene verval in waardes, geïdentifiseer soos wat dit algemeen voorgekom het in die gewilde jeugkultuur en media. Sy het daarin geslaag om die gemeenskap te betrek, die besighede sowel as politieke leiers, met die voorneme om die ouers te waarsku en kinders te beskerm. Gedurende die afgelope jaar is haar volgehoue pogings in hierdie verband met groot waardering erken. Ingrid se volgehoue aanhou en uithou is vir ons almal ‘n voorbeeld en inspirasie.”
Monica Sandri
“ ‘n Paar woorde oor my ouma: ‘n vrou met uiterse meelewing met almal en ‘n hart van suiwer goud wat nooit huiwer om alles en almal bo haarself te stel nie. Sy is waarlik ‘n inspirasie vir almal, veral vir my, op alle vlakke van die lewe. Sy is definitief ‘n seën van Bo wat deur almal gekoester word.”
Francois Louw
Kleinseun +
|