Die Woord is waar


Die Woord is waar

Ons dien ’n barmhartige, genadige en liefdevolle God wat nie wil hê dat een mens verlore moet gaan nie (kyk by 1 Tim 2:4).  Daarom is elke mens wat lewe se getuienis net die bewys van ’n liefdevolle Pa wat verlore kinders kom soek het.

Daardie dag by die burgermeesterstee in Potchefstroom, met sewehonderd vroue en drie mans, sal my vir altyd bybly!  Dit was die dag wat ek vir die eerste keer in my agt-en-twintigjarige lewe bewus geraak het dat daar baie meer in Christenskap is as bloot net  kerk toe gaan en terugkom.  Ek onthou die spreker wat voor my aan die beurt was, Gary Kieswetter, het opgestaan en vorentoe geloop met sy Bybel in die hand.  Ek het nog gedink dat ’n Bybel tog nie daar hoort nie.  Dit was nie ’n Sondag nie… Min het ek geweet dat my geestelike ore op daardie Saterdagoggend sou oopgaan!

Binne die eerste vyf minute van sy Woordbediening was my hart honger en het die Heilige Gees my kom arresteer.  Ek onthou die teken was die knop in my keel wat my sangsessie baie moeilik gamaak het. Gary het Kol 1:27 as ankervers gebruik en die een eienskap van Jesus na die ander uitgelig.  Dit was die Lewensbrood vir my hongersnood!  Soos ‘n tennisbal-diamant het dit in sy hand geglinster en ek het besef:

 

‘Daniel…, jy’s so arm soos ’n geestelike boemelaar!’

Na daardie dag het ek ’n besluit geneem om ernstig te begin bid.  Ek het nie geweet wat daardie Engelsman gehad het nie, maar ek wou dit ook hê!  Ek onthou die maande daarna…: ek het gedink ek gaan dit verloor!  Ek het aanmekaar gebid en gesoek, geklop en gevra… maar daar was net niks nie.

Omtrent ses maande vandat ek begin soek het, het ek die aand in die Kimberley-teater gesing.  Ek was totaal moedeloos omdat niks meer vir my sin gemaak het nie. Ek wou net deur die aand se ‘show’ kom, sodat ek die laaste lied, Dixiland (Gloryland) kon sing.

Met pouse daardie aand het ek letterlik agter in die kleedkamer op ‘n hopie gaan sit en huil.  Ek was aan die einde van my ‘konsert-krag’. My vrou, Daleen, het kom inloer en my daar gekry.  Sy het my gevra wat fout was en my antwoord was dat ek nie meer geweet het of daar waarlik ’n God in die hemel is nie.  Hy antwoord my dan nie!  Sy het in my aktetas begin soek na die pakkie koringkorrel-kaartjies en vir my  gesê: “Kom ons kyk wat sê die Here vanaand vir jou.” Toe sy dit vir my gee, het my hele liggaam vuurwarm geword.  Ek sit nog en wonder of daar ’n God in die hemel is en ’n stem in die een oor sê vir my: “Ek het jou mos gesê hierdie ‘Gospel-stories’ is net daar om jou beter te laat voel”.   Toe ek afkyk op die kaartjie, staan daar: ‘Roep my aan, en Ek sal jou antwoord, en jou bekend maak, groot en ondeurgrondelike dinge, wat jy nie weet nie!’ (Jer. 33:3)

Toe ek daar opstaan vir die tweede helfte van die aand, was daar vuur in my gees. Bonatuurlik!  Daleen het nogal gedink dat ek werklik ‘n goeie akteur is.  Dieselfde ou wat so pas gesit en huil het, het toe gesing asof hy die Idols-kompetisie gewen het!

Terug by die huis het ek vir haar gesê dat ek vir Gary Kieswetter wou gaan opsoek.  Ek moes hom kry om hom te vra wat dit was wat hy het, wat ek nie gehad het nie…en hoe ek dit ook kon kry!

 

 

Wedergeboorte nodig

Ek onthou hoe ’n gevoel van vrede my aangegryp het toe ek op 26 November 1993 voor hulle huis in Pretoria gestop het.  Toe ek hom gevra het wat dit was wat hy in hom het, was hy baie wys om nie op ’n godsdienstige manier met my te praat nie.  Ek was nog altyd baie godsdienstig.  Hy het geluister oor hoe ek twee keer ’n dag Bybel gelees en gebid het, elke Sondag kerk toe gegaan het, my tiendes gegee het en uit ’n baie godsdienstige familie gekom het.  Hy het net sy hand op my skouer gesit en gesê: “Dan, you need to be born again!  Repent of your sins and accept Jesus Christ as your Saviour!”

Sy woorde was skaars uit toe het my bene onder my geknak.  Toe my knieë die grond raak, het ek na God geroep.  Hy het my in ’n eenvoudige, maar opregte gebed na die Here gelei.

Toe ek daar opgestaan het, was ek vry!  Dit het gevoel of ’n ton bakstene van my skouers afgehaal is (Vergelyk Mat. 11:30). Buite was die lig so blou, ek het die voëltjies hoor sing en mense van alle kleure was vir my mooi.  ’n ‘Jesus-hart’ het my deur Sý oë na mense laat kyk.  As die Seun jou vrygemaak het, sal jy waarlik vry wees. (Vergelyk  Joh 8:36)

Danie Botha

 

 
Home | Current Issue | Past Issues | About us | Subscribe | Advertise | Contact us
Terms and Conditions | Privacy Policy